’n Dowe kind, is ’n kind, is ’n kind

Glanspuntartikels

Marike Roux

 

Elke oggend as ek in my klaskamer staan, wag ek vir die klank van skreeuende skooltas-wieletjies wat met ’n spoed by daardie gang afkom. Nader en harder, totdat klein gesiggies met opwinding in hul oë die klaskamer inbars, en hulle teenwoordigheid met ’n oorweldigende en aansteeklike energie aankondig. Ek kan nie help om te glimlag oor die duidelike oorwinning nie … my klaskamer, my vriende, my juffrou… myne.

As ek nie ’n onderwyser van dowe Graad R-leerders was nie, sou ek waarskynlik die stiller gedrag en geworstel vir die regte woorde opgelet het. Ek sou miskien die kogleêre inplanting en gehoortoestelle as iets anders en onbekend opgemerk het. Ek kon gedink het dat hierdie kinders gestremd is deur hulle gebrek aan gehoor. Ek het lank gelede al hierdie menings laat vaar.

Sedert ek die dowes begin onderrig het met ’n program waar ’n kind met versterking (soos gehoortoestelle of kogleêre inplantings) kan leer om te praat, het ek die “normaliteit” in die onderrig van die dowe kind ervaar.

Hoewel ons program gefokus is op die ontwikkeling van taal (wat behels dat die onderwyser baie gedurende die dag praat!), is ’n dowe kind se behoeftes nie verskillend van enige ander kind s’n nie. ’n Jong dowe kind leer soos enige ander kind deur spel, pret en volgehoue aanmoediging. Hulle gaan deur dieselfde ontwikkelingstadiums as enige ander kind. Ja, ’n dowe kind mag ’n taalagterstand en ander moontlike leerhindernisse as gevolg van doofheid hê, maar dit beteken nie dat die kind verskillend behandel moet word nie.

Daar moet dus billikheidshalwe gesê word dat ek die kinders in die klas dieselfde behandel as wat ek enige ander kind sou behandel. Ons leerprosesse (ek leer net soveel by die kinders) is gegrond op tasbare ervarings en om taalstrukture volgens daardie ervarings te bou. My werk vereis dat ek skeppend in my denkwyse moet wees; om in die skoene van die kleintjies te staan en enige ervaring op ’n tasbare en genotvolle manier te verwesenlik. My fokus is nie slegs op taal nie, maar ook om die kind te ontwikkel deur na al die verskillende aspekte van die kind te kyk. Wat ’n plesier is dit nie om te sien hoe die kinders groei nie; nie alleen deur die nuwe taalstrukture en woorde wat hulle leer nie, maar ook deur die ontwikkeling van hulle manier van dink en redeneer.

Ek voel uiters bevoorreg om dowe kinders te onderrig; want ek voel elke onderwyser moet kan sien watter uitsonderlike rol hulle in die lewe van enige kind in hulle klaskamer speel. Mag onderwysers nooit vergeet om groot drome vir hulle kinders te droom nie, en mag niemand durf om kleiner vir ’n dowe kind te droom nie.